Bome van hoop


Jo Black sing so mooi: “Wat is Hoop? “ dan antwoord hy self deur te sê “Dit is die wens dat die son weer opkom, dit is dat vrede by ons uit kom”.

In ‘n tyd soos hierdie is dit so maklik om ons hoop te verloor en self te vra, maar wat is hoop dan eintlik. ‘n Jaar gelede sou ons nooit kon dink dat ons “steeds” hier sou wees nie, nog ‘n “Lockdown”. Sosiale media loop oor van mense wat vra vir gebed vir ‘n geliefde, ‘n ma, ‘n pa ‘n vriendin... In hierdie tyd is dit juis Hoop waarna mense smag. Hoop vir ‘n soort van NORMAAL. 

Tog is dit ons verantwoordelikheid om in hierdie tyd vir mense Hoop te gee. Hoop dat dinge eendag weer sal normaal wees, maar ons kan nou reeds aan die Hoop vashou deur te kyk na die genade wat ons deur Jesus Christus aan die kruis ontvang het. 

Paar mense in die gemeenskap van Lichtenburg het besluit om die bome met geel lap te versier. Geel verteenwoordig Hoop. In die winter seisoen waarin ons nou is, nie net fisies nie maar ook emosioneel het ons nou meer as ooit van ten vore hoop nodig. Elke blaar wat val verteenwoordig ‘n traan wat vloei vir die mense wat iemand aan die dood afgestaan het of ‘n traan wat God smeek om iemand se lewe te spaar, maar met elke blaar wat val en traan wat vloei is daar Hoop. 

Jy kan ook deel in hierdie inisiatief. Vat ‘n stuk geel lap en bind dit om ‘n boom wat sigbaar is of selfs ‘n lamppaal. Kom ons skep bome van hoop in ons stad, land en wêreld. Elke keer wat jy verby hierdie bome ry Bid vir genesing vir ons land en wêreld. Bid vir Hoop by gesinne wat alle vorm van Hoop verloor het. Bid vir mekaar. 

Soos wat die seisoene van hierdie bome verander glo ek met alles in my dat hierdie seisoen ook tot ‘n einde sal kom, want elke seisoen van swaarkry het ‘n vervaldatum. Al wat ek en jy kan doen is ons hoop in Jesus Christus te plaas. 

Soos Jo sing: wees die HOOP. Steek jou hande uit na mekaar, hoop. Dis ‘n stem wat sê: “as jy moeg is sal ek jou dra. 

Kom ons neem hande en BRING DIE HOOP WEER TERUG. 

Marthie gesels vanaand 10 Augustus 2021, om 17h30 met Le-anke de Lange, een van die organiseerders van Bome van Hoop.