Baadjies aan bome in Polokwane


Twee dapper Suid-Afrikaanse dames, Madeleen van den Berg en Ina Botes het vanjaar die ergheid van armoede in ons land opnuut besef. Dit het op hul harte gedruk om hierdie winter iets vir die haweloses te doen. 

Die twee vlieg toe na die internet, vir inspirasie. Dierbare jong Oliver Edwards, in Australië, het ’n gemeenskaps-projek begin genaamd “free- on-a-tree” waar hy baadjies aan die bome gehang het, vir die haweloses om te neem. Dieper ondersoek het gewys dat hierdie idee ook in Turkye ’n jaarlikse tradisie is. En net daar, het Madeleen en Ina besluit om hierdie prag-idee Suid Afrika toe te bring. 

Baadjies aan bome / “Free on a tree” is ’n gemeenskaps-omgee-projek waar alle Suid Afrikaners uitgenooi word om op 31 Julie - en ook daarna- hul ou / ekstra baadjies, jasse, serpe of enige warm klere aan die bome in hul gemeenskap te hang. Die baadjie kry ’n wonderlike kaartjie by en minder bevoorregdes is welkom om die baadjie te neem en te gebruik. 

“Ons hoop om net weer bewustheid te kweek, wanneer iemand verby ’n baadjie-aan-’n-boom ry om te DINK aan die wat koud kry en hul harte oop te maak,” sê Madeleen mede- stigter van die inisiatief. Ina se woorde is ook treffend: “in hierdie tyd van absolute nood, letterlik en figuurlike koue, is dit tyd om weer te deel. Al is ons moeg, kan ons nog ’n bietjie gee en iemand se winter warmer maak.” 

Hulle wens vir die projek is dat nog meer mense oor die land sal inkoop en dat al die baadjies aan bome die 31ste ’n ketting-reaksie sal hê. 

’n Bietjie goeie nuus in ’n droewige, koue jaar. Te danke aan die Turkse tradisie en twee brawe dames. Tans is daar talle mense wat op die Whatsapp groepie is en elkeen versprei die uitnodiging onder hul gemeenskap. Saam kan ons al ons bome bekleë en die winter draaglik maak vir die wat bibber.