Plaaslike leerders Joshua en Deanè het onlangs ‘n opwindende uitdaging aanvaar toe hulle ingeskryf het vir die kompetisie van Mnr en Mej Oosskool. In hierdie kompetisie, wat daarop gemik is om die jeug te betrek by gemeenskapswerk, is hulle gekies as ‘n paartjie om saam te werk. Onder die agt paartjies in die kompetisie het elke paartjie die taak gekry om ‘n organisasie te ondersteun deur te bepaal wat hul behoeftes is en hoe die gemeenskap kan help.
Joshua en Deanè het die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) as hul projek gekry. Wat volg, was ‘n reeks wonderlike gebeurtenisse wat nie net die DBV nie, maar ook die gemeenskap geïnspireer het.
Met hulp van die gemeenskap, het hulle daarin geslaag om ongelooflike borge te kry. Die ondersteuning was so oorweldigend dat dit hulle soms spraakeloos gelaat het. Joshua en Deanè het nie net agter die skerms gewerk nie; hulle het fisies ingespring om te verf, op te knap en die omgewing op te helder. Dit het ‘n ware gesinsprojek geword, met elke dag wat iets moes gebeur, as ‘n kans vir saamwerk en binding.
Een van die grootste prestasies was die volledige opknapping van die DBV se “Cattery”. Die span het daarin geslaag om 3000 kg hondekos aan die DBV te skenk – genoeg vir ses maande se voorraad. Hulle het ook nuwe borde vir die voorkant van die gebou laat maak, die gebou self mooi geverf, en selfs die badkamer is bietjie opgeknap met die hulp van Annalie, Diane se mamma.
Daarbenewens het hulle staal en gaas geskenk, genoeg om die hondehokke voor en agter heeltemal toe te maak. Joshua en Deanè het weeklikse video’s gemaak wat op die skool se groepe gedeel is, wat verdere skenkings van kos aangemoedig het.
Dit was ‘n groot projek wat baie tyd en toewyding vereis het. Tyd was beperk, veral met al die ander buitemuurse aktiwiteite, insluitend hokkie wat Joshua letterlik net een keer per maand in die dorp gehad het. Ten spyte hiervan het Joshua sy vakansie opgeoffer om die projek aan die gang te kry.
Joshua en Deanè se verhaal is ‘n inspirerende voorbeeld van hoe jongmense ‘n groot verskil kan maak in hul gemeenskappe. Hul toewyding, harde werk, en die manier waarop hulle die gemeenskap gemobiliseer het, is werklik iets om op trots te wees.