JouRadio Gee Om


Dit is nou maar eenmaal so dat hoe meer mense saamstaan, hoe sterker is die hele gemeenskap waarin hulle woon. Almal weet 2020 was ’n taai jaar wat onverwagte nood uit verskeie oorde gebring het. As die hartklop van Polokwane is JouRadio ernstig oor die welstand van ons mense. Daarom het ons met die Gee Om inisiatief begin om ’n helpende hand uit te reik na mense wat dit nodig het.

JouRadio sê dankie aan elke luisteraar en besigheid wat skenkings gemaak het. Ons kon die laaste paar maande meer as veertig gesinne help met kos en klere. Monic het hulle besoek om skenkings af te lewer, en veral Vleislapa verdien ’n besondere dankie. Hulle het nie net gehelp met skenkings van hulle heerlike vleis nie, maar ook om dit af te lewer. 

Op 15 September het ons ’n WhatsApp boodskap ontvang van ’n dame wie se motor besig was om die gees te gee - tot die punt waar sy dit nie meer met veiligheid kon gebruik nie. Om die dilemma te vererger het sy al tien jaar nierversaking en moet drie keer per week by die hospitaal uitkom vir dialise. Boonop moet sy haar twee tieners by die skool kry.

Werner Wills en sy bekwame span van Master Tech Auto Services was dadelik gereed om te help met meer as R10 000 se onderdele en gratis arbeid. Daarna het Rex Diff en Gearbox Polokwane ook ingespring en gratis haar motor se ratkas oorgedoen. Sonder hulle hulp sou sy steeds gestrand gewees het. Polokwane is voorwaar geseënd met ’n gemeenskap wat werklik saamstaan in moeilike tye.

JouRadio se Gee Om projek help om die aandag te vestig op gevalle waar die nood hoog is, maar om ’n verskil te maak is ons afhanklik van Polokwane se gemeenskap vir skenkings. Elke bietjie help en alle skenkings is welkom, maar die vraag is veral groot na kos en klere. As jy ook deel wil wees van die oplossing, kan jy ’n helpende hand uitreik deur vir ons ’n e-pos te stuur na omgee@jouradio.co.za of ’n WhatsApp na 063 048 9408.

Dalk kan jy die rede wees wat iemand weer nuwe hoop gee vir die laaste deel van 2020. Ons sê by voorbaat dankie!

WhatsApp Image 2020-10-27 at 11.54.35 AM (1).jpeg (17 KB)WhatsApp Image 2020-10-27 at 11.54.34 AM.jpeg (94 KB)