Jy is hier
Tuis > Video's & Flieks > Plaaslike rolprent ‘n treffer by internasionale filmfeeste

Plaaslike rolprent ‘n treffer by internasionale filmfeeste

KROTOA is ’n treffende film oor ’n dapper vrou, wat alles in die stryd gewerp het, om geboorte te gee aan die wonderlike nasie waarvan ons almal vandag deel is. Dit het nie net ’n kragtige boodskap, waarmee almal kan vereenselwig nie, maar beloof ook om die kyker op ’n onvergeetlike avontuur te neem na vervloë tye.

Die film, KROTOA, doen beslis haar indrukwekkende naamgenoot gestand en het uit die staanspoor die harte van kykers en kritici, regoor die wêreld, verower. Dit gebeur selde dat ’n rolprent soveel trefkrag het dat dit, selfs voor die bekendstelling aan die Suid-Afrikaanse publiek, kan spog met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste, soos die Internasionale Rolprentfees vir Omgewing, Gesondheid en Kultuur, Wêreld-filmtoekennings, Artemis Vroue-in-aksie-filmfees en die Nashville-rolprentfees; asook sewe gesogte toekennings, waaronder ’n Toekenning van Uitnemendheid by Die Internasionale Rolprentfees vir Vroue, Sosiale Kwessies en Zero-diskriminasie, ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by die Depth Of Field International Film Festival, ’n Platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings, ’n Diamant-toekenning by die Wêreldfees vir Filmmakers, ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by The IndieFEST-filmtoekennings, ’n Toekenning van Uitnemendheid met spesiale vermelding vir Vroulike filmmakers by die Accolade Global Film-kompetisie en ’n Wêreld-platinumtoekenning by die World Woman-toekennings.

Vroue word hoofsaaklik gekenmerk as broos en kwesbaar. Daarom word die impak, wat hulle op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad het, selde onthou. ’n Held word immers deur die samelewing beskou as ’n sterk ‘krygertipe’, wat met geweld, fisiese krag en wapens geveg het vir Volk en Vaderland. Maar wat dan van die rose, wat oor die eeue heen, onuitwisbare voetspore kom trap het en dikwels selfs met hulle lewens moes boet? KROTOA is so ’n tragiese heldin en haar vergete verhaal gaan binnekort lewe kry op die silwerskerm. Die rolprent word in Vrouemaand vrygestel en is die perfekte manier om die verskil, wat die vroue in ons land maak, te vier.

Hierdie geskiedkundige drama vertel die storie van ’n vurige elfjarige Khoi-prinses, wat van haar stam weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck (die eerste goewerneur van die Kaapse Kolonie en haar oom se handelsvennoot) te gaan werk. Sy word na die eerste Fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is, geneem waar sy grootword as ’n visionêre jong dame. Sy word na die eerste Fort geneem, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is. Hier word sy groot as ’n visionêre jong dame, wat die Nederlandse taal en kultuur so goed verstaan, dat sy ’n invloedryke tolk word vir van Riebeeck – die eerste goewerneur van die Kaapkolonie. Krotoa word egter op die ou einde deur haar eie Khoi-mense verwerp en deur die Hollanders vernietig wanneer sy probeer om ’n middeweg tussen die twee kulture te vind. . KROTOA (Crystal Donna Roberts), wat leer om die Nederlandse taal en kultuur goed te verstaan, word ’n invloedryke tolk tussen Jan van Riebeeck (Armand Aucamp) en haar eie mense. Vasgevang tussen twee kulture, probeer sy om dié twee wêrelde met mekaar te versoen, wat veroorsaak dat die Khoi-stam haar verwerp en die Nederlanders haar vernietig.

 

KROTOA, uit die pen van Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid, is geskep deur ’n dinamiese span vroue, met bekroonde filmvervaardiger, Roberta Durrant, as regisseur en vervaardiger. Roberta is die skepper van verskeie suksesvolle Suid-Afrikaanse televisiereekse, waaronder Ring of Lies, Home Affairs (wat benoem is vir twee Internasionale Emmy-toekennings en as Beste Drama by die Banff-rolprentfees), Montana, Izingane Zobaba, Sokhulu and Partners (benoem vir ’n Internasionale Emmy-toekenning en as Beste Drama by die Africa Magic-toekennings), Shreds and Dreams, Saints and Sinners, Zbondiwe, Isikizi en Forced Love; asook situasie-komedies soos Sgudi Snaysi, Going Up, About Us, Madam & Eve (wenner van ’n Roos-toekenning vir Beste Komedie by die Golden Rose Festival in Switzerland), SOS, Fishy Feshuns, Going Up Again, Mazinyo dot Q, en Stokvel. Haar kinderfliek, Felix, het sewentien internasionale filmtoekennings gewen, terwyl ander produksies soos Inside Out, Skilpoppe en Ingoma ook baie goed ontvang is. Laasgenoemde is in 2016 met ses SAFTA-toekennings bekroon.  Sy is ook die vervaardiger van die nuwe kykNET drama, Sara se Geheim.

*Die rolprent word op 4 Augustus 2017, landswyd, deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Leave a Reply

Top