Jy is hier
Tuis > Musiek > Vuurwarm Patrizio Buanne – in Suid-Afrika!

Vuurwarm Patrizio Buanne – in Suid-Afrika!

Die internasionale sanger, Patrizio Buanne, wat spog met multi-platinum album verkope, het vanoggend in Suid-Afrika aangekom vir sy tiende besoek aan ons mooi land!   Hy is spesifiek bekend vir sy unieke stem sowel as sy interaktiewe en lewendige vertonings.  Hy het ‘n magdom aanhangers wêreldwyd en spog met ‘n reputasie as een van die wêreld se mees unieke sangers en Suid-Afrika se gunsteling Napolitaanse minnesanger.

Die sanger wat al beskryf is as ‘n Italiaanse Tom Jones, is vir drie weke in Suid-Afrika om sy nuwe CD, Viva La Dolce Vita te bemark en by Classics is Groot op te tree op die 30ste Julie.  Hierdie vertoning word aangebied deur Coleske Artists, wat ook verantwoordelik is vir die suksesvolle verhoog-produksie Afrikaans is Groot.  By Classics is Groot gaan daar gefokus word op ou klassieke gunstelinge met nuwe woema. Kunstenaars soos Jannie Moolman en Corlea Botha sal onder andere ook saam met Patrizio optree.

Die album is uitgereik om sy tien jaar in die musiek bedryf te vier sedert die uitreiking van sy eerste internasionale album, The Italian.

Viva La Dolce Vita is sy vierde internasionale album, en het soos al die voriges, reeds platinum status bereik oorsee.  Dit is ‘n ongelooflike prestasie, veral omdat musiek verkope wêreldwyd afneem.  Dit bevat van sy gewilde treffers in Engels en Italiaans soos, ‘Surrender’, ‘Al Di La’, Il Mondo, Mambo Italiona, Un Angelo en ook ‘n paar nuwes.

Die album wat ook nou in Suid-Afrika beskikbaar is, word as ‘n dubbel CD uitgereik want Patrizio het ‘n spesiale tien jaar herdenking verrassing vir sy getroue aanhangers hier. Daarop sing hy treffers saam met plaaslike sterre. Soos ‘Liefling’ saam met Steve Hofmeyr, ‘Always on my mind’ saam met Juanita du Plessis en ‘Ek mis jou elke dag ‘n bietjie meer’ saam met Corlea Botha.

Volgens Patrizio het hy die spesifieke naam vir die nuwe album gekies omdat dit sy lewensuitkyk vasvang. “La dolce vita beteken ‘to live the sweet life’. Dìs my lewe. En nee, daarmee sê ek nie my lewe is perfek nie. Daar is baie hartseer goed wat rondom ons gebeur. Wêreldwyd, maar ek glo dat ‘n mens ‘n positiewe lewensuitkyk moet hê.”

“Om romanties te wees is om te luister na jou hart en jouself te wees. ‘n Mens moenie te veel daaroor dink nie. Dit wat in jou hart is moet by jou mond uitkom. ‘n Mens moet real wees. En dit is waaroor ek sing,” sê Patrizio

Kyk gerus hier na die video van I WILL LOVE YOU <Kliek>

Leave a Reply

Top