. . .

Sterbelaaide radiovervolgverhaal op JouRadio

Van Maandag 7 Maart kan luisteraars landwyd hul ore spits vir ʼn nuwe radiovervolgverhaal, Seweweekspoort, wat in opdrag van Maroela Media deur Bettie Kemp vervaardig is.

Die plase in Seweweekspoort is afgeleë, groot en onherbergsaam maar as jy mooi kyk vind jy die stukkies Eden. Hier woon die Woltemade-familie op die plaas Arendsvlei en dis wanneer hierdie familie en die mense van die omgewing bymekaar kom dat die vonke behoorlik spat.

Oom Frans het die boerdery skielik oorneem ná ʼn tragiese ongeluk. Hy het baie uitdagings geërf – die droogte, veediefstal en ʼn grondeis wat oor die plaas hang. Sy tweede vrou, Beneske, het geglo sy trou met ʼn ryk boer, maar moes gou kennis maak met die harde werklikheid van haar nuwe omgewing.

Boonop stryk sy en die oudste seun, Rocco, glad nie. Hy het ʼn werkswinkel op die plaas en sy passie is motors en enjins, nie boerdery nie. Sy jonger broer Theuns het veeartseny gaan studeer en hulle jongste sus Lia is ook op universiteit. Ouma Marie is die hartklop van die familie wat almal bymekaar moet hou. Sy bedryf boonop die tuisnywerheid op die dorp Maroelafontein.

Die boheemse niggie, Esmerelda, ʼn wêreldburger, kom krap elke nou en dan die plaasmense en dorpenaars se lewens om.

David is ook deel van die Poort. Hy bedryf ʼn karweisaak en ken almal se stories. Sy dogter Naomi is aangestel as bestuurder van die natuurreservaat in die omgewing. Sy het ʼn opdraande stryd met die boere van die omgewing – sy is ʼn vrou en boonop bloedjonk en bruin. En dan verskyn Sewes de la Rey … ʼn charismatiese man wat verbind word met ʼn ongelooflike storie oor die Rhodes-diamante in die Poort.

Luister gerus hoe dinge ontvou in Seweweekspoort, geskryf deur Anton Treurnich en opgevoer deur Kemp.

Die radiovervolgverhaal spog met ʼn gesoute rolbesetting wat lewe gee aan die karakters. Frans Woltemade word vertolk deur Richard van der Westhuizen terwyl die rol van Ouma Marie, die matriarg wat die familie bymekaar hou, deur die verhoog-, televisie- en rolprentaktrise Magda van Biljon vertolk word. Sewes de la Rey word deur Lochner de Kock gespeel, Theuns Woltemade, die leergierige boetie, word deur Anrich Herbst vertolk, terwyl Karen Wessels in die rol van Beneske Woltemade gehoor kan word. Antowan Nothling, Christine Voorendyk, Duncan Johnson, Sulette Thompson en Eloise Cupido is van die ander bekende radiostemme wat ook in hierdie vervolgverhaal gehoor kan word.

Seweweekspoort en sy mense se stories gaan luisteraars vir 13 weke in 65 episodes voor die radio vasgenael hou. Dit is die sewende radiovervolgverhaal wat gratis deur Maroela Media aan radiostasies verskaf word, danksy ʼn borgskap wat die koste dek.

Leave a Reply