. . .

Vir Die Een Wat Geval Het – Len Muller

Gewilde Afrikaanse sanger Len Muller se nuwe enkelsnit Vir Die Een Wat Geval Het is hierdie week uitgereik.

Die lied het vir die jong sanger baie persoonlike betekenis. “Dit is een oggend geskep nadat ek ‘n verskriklike droom gehad het. Ek het gedroom dat ek op my eie begrafnis was. Die begrafnisondernemer het gepraat oor geure en dat ons elkeen ‘n sekere geur agterlaat. Ek onthou ek het so vir myself gestaar wat daar in die kis gelê het en ek het gewonder wat my lewe beteken het… Dit het my laat dink aan my nalatenskap.”

“Toe ek wakker word die oggend het ek toevallig ‘n skryfsessie met my goeie vriend Jattie de Beer geskeduleer. Hy het die oggend ingestap, by die klavier gaan sit en Vir Die Een Wat Geval Het se inleiding begin speel. Ons het binne twee ure saam die lied geskryf.”

Nadat Len sy debuut-album Doodgewone Avontuur in 2015 uitgereik het, toer hierdie jong talentvolle sanger die land plat en tree hy by al wat ‘n fees is op. Sy liedjies kan gereeld op radiostasies regoor Suid-Afrika gehoor word en aan entoesiasme en talent ontbreek hierdie jong sanger glad nie!

Hy sê oor Vir Die Een Wat Geval Het se musiekvideo wat eksklusief op 5 Maart 2016 op kykNET se program Jukebox uitgereik word: “Die idee vir die konsep van die musiekvideo het ontstaan as gevolg van ‘n belewenis wat ek ‘n paar jaar terug gehad het. Ek was in ‘n ernstige karongeluk omdat my vriend dronk bestuur het.

“Ek het gevoel ek wil die lied se sterk boodskap koppel aan iets wat ‘n verskil in mense se lewens kan maak. Dit het my laat dink dat om op jou selfoon te tik en te bestuur net so sleg soos dronkbestuur is, omdat dit nie net jou eie lewe in gevaar stel nie, maar ook die van ander mense op die pad.

Ek is vreeslik skuldig daaraan, maar die lied gaan oor tweede kanse en in die musiekvideo probeer ons dit ook so uitbeeld.”

Len is besig om wel ‘n sterk nalatenskap in die musiekbedryf te skep en alle oë en ore is op hom terwyl hy stelselmatig sy merk as een van Suid-Afrika se gewildste jong sterre maak.

Leave a Reply