. . .

Vir Altyd laat die harte klop en die rekords spat!

Die nuwe Afrikaanse romantiese avontuurfilm Vir Altyd het meer as net gehore in vervoering gehad tydens sy openingsnaweek – die film het ook die rekords by die loket laat spat met ’n verdienste van R4,727,479.00 en is deur 89 731 mense gekyk.

Dit plaas die film amptelik in die voorste posisie vir beste verdienste vir ’n Afrikaanse fliek tydens sy eerste naweek.

Vir Altyd vertel die verhaal van Hugo (Ivan Botha) en Nina (Donnalee Roberts) wat saam as beste vriende grootgeword het, maar kontak verloor weens ’n hartseer gebeurtenis wat hul albei se lewens verander.
Na tien jaar, sien Hugo en Nina mekaar weer op die vooraand van haar troue met Retief (Stiaan Smith), maar na haar sprokiesverhaal inmekaar tuimel, vertrek sy en Hugo Mauritius toe; sy ’n teësinnige ‘bruid’ en hy wat van die begin af worstel met sy gevoelens vir haar.
Op die eiland besef hulle, na hulle op vele avonture gaan en twee ander paartjies op die liefdespad ontmoet, dat dit nie oor die gelukkige einde gaan nie, maar eerder oor die reis soontoe.
Na hierdie treffersnaweek, sê Ivan Botha en Donnalee Roberts, skrywers, mede-vervaardiger en hoofspelers van die fliek: “Ons is oneindig dankbaar vir almal se ondersteuning en wonderlike positiewe terugvoer. As filmmakers is daar geen groter eer as wanneer soveel mense met jou deel dat jou storie en karakters hulle laat saam lag, huil en voel het nie. Vir Altyd is ’n droom waaraan ons al vir twee jaar kliphard werk en dit is ’n voorreg om hierdie avontuur met julle te kan deel.”

Elize Cawood, Wilson Dunster, Illse Roos, Dirk Stoltz, Laré Birk, Deidre Wolhuter, Andre Jacobs, André Stoltz, Sans Moonsamy, Nicky de Kock en Caylem Else en Hèléne Truter is van die akteurs wat ook in die rolverdeling te sien is.

Die rolprent is op 12 Februarie 2016 landswyd deur Ster-Kinekor, Nu Metro en onafhanklike teaters uitgereik.

Vir Altyd is vervaardig deur 17FilmStreetMedia en The Film Factory.

Leave a Reply