. . .

Ontmoet vir Sharoney

Gedurende 2014 is Sharoney aan die Suid-Afrikaanse publiek bekendgestel met die uitreiking van haar heel eerste enkelsnit Een Keer, geskryf deur Hugo Ludik en Reynardt Hugo van die gewilde groep ADAM. Sommer baie vinnig het hierdie liedjie die trefferparades van radiostasies regoor Suid-Afrika gehaal en vir ’n lang tyd net daar gebly! Sharoney is 19 jaar oud, vol lewenslus en het in 2013 gematrikuleer aan die Hoërskool Hugenote in Springs, waar sy ook grootgeword het. Haar droom is om in 2015 regte te gaan studeer. Sommer met die intrapslag besef ’n mens dat Sharoney ’n alles of niks mens is en dat sy nie daarin glo om kortpaaie te neem nie. Vir hierdie talentvolle sangeres is ‘n droom besig om bewaarheid te word.

Gedurende 2010 is sy verkies as lid van die span wat Suid-Afrika in Los Angeles sou verteenwoordig en in 2011 neem sy deel aan Beyond 2000 se Suid-Afrikaanse Nasionale kampioenskappe vir die uitvoerende kunste se sang afdeling. Tydens haar deelname gedurende 2012 aan die South African Talent Championships (SATCH), waartydens sy baie positiewe terugvoer ontvang het, het sy finaal besef dat sang haar eerste liefde is. Sy is ook lid van die Performer Corner en was ook deur die regiseur At Strydom genader om ‘n rol in sy produksie WASEM te speel. ‘n Meisie van vele talente!

Leave a Reply