. . .

BEESKRAAL REVIVAL – KRONKELPAD

Sowat 15 jaar gelede het Beeskraal hulself as een van Suid-Afrika se grootste groepe gevestig. Hulle was deel van ‘n nuwe era van Afrikaanse rockmusiek en verskeie media het dié groep as “revolusionêr” bestempel. Met hul nuutste album, Kronkelpad, bewys Beeskraal Revival (soos hulle nou bekendstaan) weer eens hoe hulle die grense van Afrikaanse musiek ten goede kan verskuif.

Kronkelpad se produksie is van internasionale standaard maar tog Suid-Afrikaans en daar is ‘n duidelike positiewe groei sedert Beeskraal Revival se laaste album, Terug Innie Kraal. Die vakmanskap van die instrumente en die verwerkings van die liedjes is alleen al ‘n bonuspunt vir dié ongelooflike album.
Charles Smidt (stigterslid) en sy medemusikant, Kevin Hurter, het ‘n hele nuwe rigting met dié album aangeslaan en hul fokuspunt verskuif na ‘n nuwe styl wat internasionaal as Appalachian Mountain Music bekendstaan. Hierdie is musiek in sy rouste en oorspronklikste vorm; al die instrumentasie is akoesties en boonop lewendig opgeneem. Die groep verwys na die nuwe styl as “Magaliesberg-musiek”. Smidt het baie navorsing oor die genre gedoen (hy was betrokke by die suksesvolle kykNET-reeks, Country Hart met Juanita du Plessis, wat oor nege state in Amerika verfilm is). Hy vertel dat daar sowat 23 country-genres bestaan, van tradisioneel tot Black Country en Country Punk.
Volgens hom het die meeste mense het ‘n wanbegrip van country-musiek.
“Dis nie net van ‘n cowboy-hoed opsit en boots aantrek nie. In Amerika is dit ‘n leefstyl. Daar is te veel mense wat sommer sokkiemusiek onder die vaandel van country aanbied. Ons wil mense die ware Jakob laat hoor,” het Smidt gesê.
Die liedjies op Kronkelpad dien as ‘n uitkyk op die onmiddellike gemeenskap waarin ons leef en lewer sosiale kommentaar daaroor. Daar is baie sterk, kitaar-aangedrewe werk wat afwissel met sterk melodieë op die banjo en ander tradisionele instrumente. Soos oudergewoonte het Smidt weer eens al die lirieke geskryf behalwe vir ‘n Afrikaanse vertaling van die Zak Brown Band se 2006-treffer, Chicken Fried, wat hulle aanbied as Vleisbraai en Abel Kraamsaal se lied, Storm. Nog liedjies om dop te hou is Jane, Onthou Jy, Kampvuur, Verlang, Kronkelpad en Ek’s vir Jou.
In die ateljee is die groep bygestaan deur topmusikante soos Vinnie Henrico op tromme en Wynand Davel (Radio Kalahari Orkes) op viool. Beeskraal Revival doen ook hul eie verwerkings en die hele vervaardiging is deur Hurter behartig – hy is op kitaar, banjo, mondfluitjie en harmonieë te hore.
Hierdie album is definitief ‘n groot mylpaal vir Beeskraal Revival ná hul afwesigheid van sowat twee jaar (as gevolg van Charlie se betrokkenheid as vervaardiger en konsepdenker van die befaamde dokumentêr op kykNET, Country Hart met Juanita’). Kronkelpad is die agtste studio-album op Beeskraal Revival se kerfstok en gewis die beste tot nog. Dit sal opnuut weer ‘n bewys van hul oorspronklikheid en musikale vernuf wees waarvoor hulle oor die jare heen bekendheid verwerf het.

Leave a Reply